Hortgro, the South African deciduous fruit industry organisation, has invested nearly R50 million in bursary…
HORTGRO belê R2.5m in studente
Stellenbosch – HORTGRO het vanjaar meer as R2.5 m bewillig vir beursgelde aan studente in die landbouwetenskappe.
“Hopenlik sal elkeen van julle mettertyd julle eie nis êrens in die landboubedryf vind. Daar is baie geleenthede – julle moet dit net aangryp,” het HORTGRO se Uitvoerende Direkteur, Anton Rabe, aan studente gesê tydens ‘n beursfunksie op Stellenbosch gisteraand. Oor die afgelope tien jaar het HORTGRO meer as R20 m aan studente beursgelde betaal en sien dit as ‘n “belegging om jong landbouwetenskaplikes vir die toekoms, te kweek”. Volgens Rabe het 65 studente finansiële steun ontvang. Die studente is versprei oor die land vanaf Elsenburg Landboukollege, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Limpopo, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch.
Die studente, wat hoofsaaklik van vooraf benadeelde gemeenskappe kom, het vroeër die middag deelgeneem aan ‘n toer deur die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie (SAPO Trust) se fasiliteit op Stellenbosch. Hierna het prof. Wiehann Steyn, HORTGRO Science se Program Bestuurder vir Produksie , hulle aangemoedig “om nooit op te gee nie”.
Steyn, wat self ‘n HORTGRO beurshouer was, het in ‘n motiveringspraatjie sy eie lewensreis met die studente gedeel. “Elkeen van julle wat ‘n beurs gekry het, is ongeag julle omstandighede, bevoorreg. Julle behoort aan ‘n uitgesoekte groep Suid-Afrikaners wat die geleentheid het om te studeer,” het Steyn gesê. Hy het aan die groep gesê dat hy die eerste persoon in sy familie was wat die geleentheid gehad het om te studeer en dat dit ‘n “enorme motivering was wanneer dinge moeilik geraak het”.
Een van die studente wat gisteraand se funksie bygewoon het, is die 22-jarige Faith Mokapane. Mokapane, vanaf die Vrystaat, is tans besig met haar finale jaar in BSc Agric. “Ek wil bitter graag eendag my eie grond hê waarop ek kan boer. Bloubessies of granate,” het die jong vrou met Hortologie en Plantpatologie as hoofvakke, gesê. Maar eers wil sy haarself verder bekwaam. “Ek wil graag my studies voortsit en beplan om volgende jaar ‘n meestersgraad te doen oor die na-oes bestuur van granate.”
Vir meer inligting, kontak Dane McDonald by dane@hortgro.co.za of 072 129 9649. Volg ons op sosiale media en by www.hortgro.co.za en www.hortgro-science.co.za